WSC BANNER21

 

The Passion of World Shakers Church is to be a mature and trained army of disciples that will change their world.

Getuienis

Graag wil ek hierdie getuienis deel om ere aan God te bring en om te getuig dat daar WERKLIK krag is in die gesproke Woord, dat ons moet staan op die Waarheid in God se Woord, en die krag van bid en glo, bid en glo, bid en glo.

Kersfees 2010 was ons so bevoorreg om as ‘n groot familie saam te spandeer  - altesaam 39 grootmense en kinders in die nat Vrystaat tussen die berge.  My broer Len, sy vrou Marita (Short soos ons haar noem omdat sy so kort is) en kinders al die pad van die Kaap was ook daar.  Daar is beurte gemaak om etes voor te berei, en juis  die dag toe dit Len en Marita se beurt is om ons glad-nie-honger-magies alweer kos te gee, kry Marita  een van haar verblindende hoofpyne.  Nadat sy pynpille gedrink het en vir ‘n paar uur plat was, kom sy heel  in by die eetsaal waar daar al vroegtydig grootskaalse voorbereidings getref word vir Kersete.  Sy deel met ons dat hierdie hoofpyne ‘n gereelde ding is.  Sy was alreeds talle kere by hul huisdokter, en hy sê dit is migraines en hy skryf dit toe aan stres (sy is hoof van ‘n skool).  Short sê toe ook dat sy in 2011 van voorneme is om by die wortel van die probleem uit te kom, want dis nou van so ‘n aard dat dit haar lewenskwaliteit inperk.

Na ‘n regtig geseënde Kersfees  gaan ons uitmekaar, weer elkeen in sy eie rigting.  My broer Len , Marita en kinders is van plan om nog die binneland te geniet en bietjie Forel te hengel by Dullstroom.  Oppad soontoe ry hulle deur ‘n groot elektriese storm.  Die weerlig slaan die lugdraad van hul motor raak en gelei toe seker na die elektronika toe, en daar gaan staan hulle in die storm langs die pad.  Seker ‘n stresvolle situasie om so langs die pad te staan  want die uitsig is baie beperk met die harde stortreën.  Gelukkig daag daar hulp op van Lydenburg se kant af, die motor word ingesleep en daar word ‘n bakkie tot my broer-hulle se beskikking gestel terwyl hul voertuig herstel word. 

Hulle vakansie gaan voort, Len en die kinders vang vis en Marita het weer so hoofpyn dat sy nie aan die pret kan deelneem nie.  Hier reg by nuwe jaar, ry Marita in dorp toe met die geleende bakkie.  Sy kry ‘n “black-out” terwyl sy bestuur en stamp die bakkie.  Dis die eerste keer wat dit gebeur met haar, en daar word dadelik reëlings getref dat sy opgeneem word in die hospitaal in Nelspruit.
MRI-skandering se uitslag is dat sy ‘n breinbloeding het.  Hulle kan haar nie verder behandel in Nelspruit nie, maar Len en Marita word gerusgestel dat op ‘n skaal van 1 tot 5, die erns van haar bloeding komma vyf is.  Sy is egter opgeneem in intensief en  moet oorgeplaas word Unitas hospitaal toe.  Hul kinders gaan kuier toe by die niggies in Komatipoort om die harwar gespaar te word (en Jenna die pikanese wat al die pad van die Kaap af nog saam vakansie hou, word by ‘n hondehotel ingeboek te Dullstroom).
Dis feestyd, en Marita moet oorgeplaas word Unitas toe, maar daar is nie spesialiste beskikbaar nie. Sy is al vir ‘n week in Nelspruit voor sy oorgeplaas word Unitas toe – 6 Januarie 2011.  Ek kry die kinders (en Jenna die pikanese) in Middelburg, sodat hulle hier by ons in Marble Hall kan kuier, terwyl Len saam met Marita in Pretoria is. 

Sy word opgeneem in Unitas en word dadelik teater toe gestoot vir ‘n angiogram (‘n kleurstof word in die are geadministreer en dan word daar x-straal foto’s geneem om te sien wat die omvang van die probleem is).  Die angiogram toon dat sy ‘n serebrale aneurisme het met sub-aragnoïede bloeding.  Daar word verduidelik dat die aneurisme ‘n swak plek in ‘n aar is – dit kan óf ‘n skeur in die aar wees, óf dit kan ‘n “bubble”-tjie wees wat gebars het, en dit is dan die oorsaak van die breinbloeding.  Daar is egter te veel gestolde bloed rondom die probleem-area, so hulle kan nie bepaal of dit ‘n skeur of ‘n “bubble” is nie.  Indien dit ‘n “bubble”-tjie is wat gebars het, kan dit herstel word met ‘n delikate breinoperasie, maar indien dit ‘n skeur is sal chirurgiese ingryping nie help nie.
Die volgende dag (Vrydag 7 Januarie 2011) neem ek die kinders Pretoria toe om hul ma te sien, want dis nou al ‘n week vandat hulle haar laas gesien het.  Hospitale is nié nice plekke nié.  Ek was nog net eenkeer vantevore in ‘n intensiewe sorg eenheid, en ek kan nie dink hoe intimiderend dit vir die kinders moes wees en hoe onseker hulle moes voel om hul ma daar te sien nie.  Hulle word nie eers 5 minute daar binne toegelaat nie en toe moet hulle alweer uit.  Ek gaan ook net vinnig in.  Marita praat maar haar oë wil net toeval van die medikasie.  Sy sê net vir my dankie, dankie, dankie dat ons na hul kinders kyk, en ek sê hulle kan by ons bly solank as wat nodig is, solank sy net gesond word.  Ek sien vir Marcelle Jacobsohn ook daar by die ingang van intensief – haar pa is daar opgeneem vir sy hart.  Ons wens mekaar sterkte en voorspoed toe. 

Van toe af voel dit vir ons of alles net so vinnig en deurmekaar gebeur.
Sondag 9 Jan 2011 praat ek met Len en hy sê vir my hy is baie bekommerd, want hulle gee nie meer vir Marita sederende medikasie nie, maar sy kommunikeer onlogies en kreun net.  Hy vrees dat sy reeds breinskade het.  Hy sê wanneer sy net stil lê is haar pols 120 en wanneer sy omdraai gaan haar pols op tot by 140, so haar liggaam is onder geweldige stres.
Maandag 10 Januarie 2011 – Marita in ‘n koma.

Dinsdag 11 Januarie 2011 – Marita se niere en lewer funksioneer nie meer soos moet nie en daar word ‘n dialise-masjien aan haar gekoppel.  11 uur die aand bel hospitaal vir Len dat hy moet inkom hospitaal toe.  Marita moet aan ‘n ventilator gekoppel word want sy kan nie meer self asem haal nie.
Woensdag 12 Januarie 2012 – Thomas, my broer van Komatipoort kom haal die kinder s in Marble Hall sodat hy hulle kan deurvat Pretoria toe.   Hulle weet nog nie dat hul ma se toestand so versleg het nie.  Ek kry vir Marcelle Jacobsohn in SPAR – dit gaan goed met haar pa, hy is oorgeplaas na ‘n gewone saal toe.  Ek het nie sulke goeie nuus om haar mee te deel nie.  Sy sê dat sy by die apteek was en met tannie Elbie gepraat het.  Tannie Elbie het vir haar gesê dat ons nie eers moet simpatiseer nie, maar net lewe moet spreek.

Donderdag-oggend 13 Januarie 2011 – ek is besig om klaar te maak om vir werk Middelburg toe te ry. My ander skoonsussie (Thomas se vrou)  bel my baie hartseer uit Komatipoort.  Sy sê Thomas sê dinge lyk baie sleg.  Marita lê net daar met pype, pompe, 11 sakkies en alarms aan haar gekoppel.  Die kinders het vreeslik gehuil toe hulle haar sien, daar uitgestorm en wou nie weer daar ingaan nie.  Sy sê dit voel vir haar asof ons vir Marita gaan verloor.  Ek sê sy moet nie so hartseer wees nie, ons weet dat Marita God se kind is, en “ons enigste troos in lewe en dood is dat sy aan Jesus Christus behoort”.
Ek is toe oppad Middelburg toe.  En ek bíd!  Ek sê vir Abba Vader dat ek voor die troon kom om vir Marita se lewe te kom counter-petition.  Ek weet nie hoekom en waarom sy deurgaan wat sy doen nie, maar ek bring my broer en haar kinders voor Hom en vra dat Hy asseblief haar lewe moet spaar vir hulle.   Ek onthou die gesprek wat ek met Marcelle gister in SPAR gehad het.  Heilige Gees praat met my en Hy gee vir my ‘n boodskap wat ek moet uitstuur.  Nadat ek die boodskap gekry het, praise en worship ek al die pad tot in Middelburg kliphard saam met my cd’s.
Toe ek stop in Middelburg, teks ek die volgende boodskap uit aan al die familie-lede:
“The stage is set for a miracle!!  Speak words of life, no negative words, not even words of sympathy!  Give God’s angels – the angels of LIGHT – words to work with.  Short veg so hard, neem die swaard van die Gees op, God se Woord, en kom ons veg saam met haar en hou styf vas aan ons sild van geloof.  This is war en ons is Sy warriors! Veg! En praise God en rejoice oor die miracle wat ons met ons eie oë gaan sien!”

Len het ons die heeltyd per sms’e wat hy van sy rekenaar af stuur, of hoogte gehou van Marita se toestand.  Dit was heeltyd net feitelike inligting wat ons ontvang het en hy het sy dankbaarheid uitgespreek vir ons gebede en bystand.  Vrydag-aand (14 Januarie, 23h15) stuur Len die volgende sms.  “As storms my dreig, ek rigting verloor, tot niemand my hoor, waar geen hoop vir my oorbly en vrees my deurboor – Here lei my, bly by my.”  Ek kry hom en die kinders so jammer en ek huil in my kussing.  Hoekom voel dit dan nou vir my ook asof ons haar gaan verloor? 
Marita se pa en ma is by die hospitaal, my pa en ma is daar, haar suster wat oorsee bly het SA toe gevlieg en is daar, haar ander suster ook daar, my sussie van Middelburg is daar, my boetie van Komatipoort is daar….  om totsiens te sê…..  My ma sê sy is onherkenbaar geswel, ‘n mens kan net aan haar handjies sien dat dit sy is.  My sussie sê haar vel is so gerek van die swelling, dit is bloedrooi en lyk of haar vel wil skeur.  As mens aan haar vat voel dit asof jy aan ‘n ballon vol water vat.  Norman vra of ons nie ook moet deurry Pretoria toe nie, en ons besluit nee, as sy moet gaan wil ons haar onthou soos sy was.
Saterdag, 15 Januarie 2011 – Len sms : Dankie vir die baie boodskappe, besoeke bystand en ontelbare gebede.  Short steeds kritiek.
Maandag, 17 Januarie 2011 – Len sms : Marita in teater vir angiogram.  Bid asb vir positiewe uitkoms.  Dankie vir al julle boodskappe en gebede.
Ek praat later deur die dag met my ma en sy sê die uitslag van die angiogram is dat die aar nie ‘n “bubble” in het nie (dis die een wat hulle kan opereer), maar die aar het ‘n skeurtjie in (nie opereerbaar nie).
Maandag 17 Januarie kry ek hierdie term en ek spreek dit uit oor Marita se lewe en sms dit weer aan al die familie-lede : REGENERATION – to undergo moral, spiritual or physical renewal – to be formed again or to replace.
Ek sê vir God maar niks is mos vir Hom onmoontlik nie en Hy kan mos Marita se aar in haar brein weer vorm of ‘n nuwe een vir haar gee en haar heeltemal “renew”.

Dinsdag-oggend gaan drink ek tee by ‘n vriendin en sy bid dat ons weet dat God net so met sy vinger op die skeurtjie kan druk en dan is sy volkome herstel.
Later die dag (16:23) stuur Len dié sms : Het nie al die antwoorde gekry nie.  Kan julle eers Woensdag inlig nadat dokters vergader het.  Dokter probeer Marita afkry van ventilator.
Ons almal is so bly want dis baie goeie nuus van die ventilator!
18 Januarie 2011 – Kry die volgende Woord vir Marita : 2 Cor 3:17  Now the Lord is the spirit, and where the Spirit of the Lord is, there is liberty (emancipation from bondage, freedom).
[Liberty : freedom, the opposite of bondage, whether physical, moral or spiritual.]

Woensdag 19 Januarie – Len sms : Marita kommunikeer logies.  Beweeg ledemate.  Word stelselmatig gespeen van ventilator.  (Verlamming in die onderlyf is ‘n groot moontlikheid met dié soort van trauma.)
Donderdag 20 Januarie – Len sms : Nie meer op ventilator.  Sy wil net van daardie bed afklim.  Baie dankie vir al julle gebede en bemoediging.  Ek verlang na die Kaap.
Sondag-aand, 23 Januarie 2011 – Len sms : Marita loop klein treetjies, praat, oorgeplaas na gewone saal vanaf 24ste.
My broer, Len het in daardie week teruggery Kaap toe.
31 Jan 2011 (Maandag) – Marita het vandag MRI scan ondergaan.  Niks wat kommerwekkend is.  Hou duim vas dat sy volgende week terug is by die huis.  Die Kaap is leeg sonder haar!

Marita is in daardie week weer in teater toe vir nog ‘n angiogram.  Die angiogram het getoon dat haar brein heeltemal herstel is (renewed, replaced, restored, regenarated) en dat dit skeur in die aar weg is (renewed, replaced, restored, regenerated!!)
6 Februarie 2011 (Sondag) ontvang ons die sms van die dame wat die prys betaal het vir ons, om so ‘n moeilik beskryfbare geloofsles te leer : “Liewe vriende en familie, strome lewende water het uit my oë gevloei toe ek Len en kinders op lughawe sien.  Die 3 wag daar vir my met groot bos rooi en swart helium balonne.  Toe ons by huis kom is huis vol helium balonne, tot aan jenna se halsband is balonne!  Toe maak hul balonne aan mekaar vas en aan die balonne ‘n boodskap in ‘n bottle en ons gaan los dit oor die see.  Dit was ná middernag.  Om die see-lug op my te voel was ongelooflik.  Om my kinders vas te hou en Len se oë te sien was ‘n onverdiende geskenk reg uit die hemel.  Dankie vir al jul gebed en ondersteuning.  Liefde en veral GEBEDE, Short.
Ons wil net aan ons Grote, Wonderwerkende God, AL die eer bring.  Ons het geleer dat God se Woord ‘n kragtige wapen is.  “For the weapons of our warfare are not physical [weapons of flesh and blood], but they are mighty before God for the overthrow and destruction of strongholds.”  (2 Cor 10:4)

Ons het eerstehands geleer dat die mag van lewe en dood IS in die tong.  “Death and life are in the power of the tongue, and they who indulge in it shall eat the fruit of it [for death or life]. (Prov 18:21)
Ons het geleer dat die gebed van gelowiges ‘n kragtige uitwerking het  “The earnest (heartfelt, continued) prayer of a righteous man makes tremendous power available [dynamic in its working].”
Ons het geleer dat ons die beloftes wat God vir ons gee in Sy Woord, moet glo en dat dit ons elkeen se porsie is.
Ons het geleer om Jesus se bloed te pleit.
Ons het geleer om God te prys, in die middel van moeilike omstandighede.
Al die eer aan U, O God.  Our God is an awesome God!!

Daleen Maxted