WSC BANNER21

 

The Passion of World Shakers Church is to be a mature and trained army of disciples that will change their world.

Ek wil getuig

Dinsdag 30 September 2008

Op Dinsdag 2008 – 09 - 30 ongeveer 05h45 lui my selfoon my wakker.  Ek skrik half - verwag nie so vroeg ‘n oproep.  My man Johann: “Ek was in ‘n vreeslike ongeluk, kry mense om my te help! My bene, my bene!” STILTE........

Ek is in Pretoria – Johann oppad om arbeid te gaan haal - geen idee waar - iewers tussen ons huis en Phaala.  My ore suis. Bel. Kry hom nie op die foon - niemand antwoord nie.  Moet iemand kry om te gaan help.  Het nie nommers nie.  Bel Madel, Ria, Japie....hulle sal gaan soek.

Kop-aan - kop botsing! Johann baie ernstig beseer.  Twee insittendes van motor wat ongeluk veroorsaak het, is opslag dood.  Die ander is baie ernstig beseer – sterf ook later die dag.  Almal word egter afgevoer na Dennilton; Philladelphia Hospitaal, met provinsiale ambulansse.  911 Ambulans vat Johann Unitas Hospitaal toe na hy gestabiliseer is.

Ons weet die Here was vanaf die impak van die ongeluk met Johann.  Deur na die voertuig - ‘n Toyota Land Cruiser te kyk, besef dis ‘n wonderwerk om lewend uit so ‘n wrak te kom.  Kopbeserings, oogbeserings, tye van nie behoorlik by te wees nie, laat ons besef ‘n wonderwerk het ook plaasgevind toe hy my bel - menslik gesproke was dit onmoontlik.  Die Here was met hom.

Ons familie wag by Unitas Hospitaal.  Ek, Yolandi, my sussie, haar man en Johann se sussie.   Ons bid.  Minute word ure.  Ek praat sommer met my “Vader”. In benoudheid skenk Hy ons bomenslike kalmte.  Ons wag.....Die ambulans arriveer ongeveer 12h00. 

Voor ek nog vir Johann kan sien of by ‘n dokter kan hoor hoedaniog sy beserings is, kom die administratiewe personeellid en deel my mee, dat ek R300 000 moet neersit, anders voer hulle Johann af na Kalafong Hospitaal.  Ons het nie ‘n mediese fonds nie- net ‘n hospitaal plan.  Kom ooreen om die Vrydag geld in te betaal.  Ek vertrou die Here daarvoor en bly gefokus op die nou.

Op daardie staduim weet nie eers oor watter geldfondse ons beskik nie.  Ek weet ons het wortels gelewer vir SAD in Nelspruit, maar dis ook al.  Weet nie of hulle al geld oorbetaal het op ons rekening, al dan nie. Bel Bank - hulle mag nie telefonies inligting gee nie. Verduidelik - abnormale omstandighede.  Wat ons nodig het, saam met die R50 000 wat my sussie-hulle gee, is beskikbaar.  Die Here het voorsien.

Na sewe uitmergelende ure in ongevalle, word Johann uitgeskuif na die Trauma Intensief.  Dr. Welcovics is die trauma spesialis – en baie negatief.  Ek hoor hom nie regtig nie.  Ek vertrou op ‘n Almagtige God, wat ons al deur so ‘n krisis, 13 jaar gelede gedra het.  Hy het Johann se lewe met ‘n doel gespaar!  Ek weet daar word gesê, Jojann gaan so 3 weke in intensief wees- as dit goed gaan.  Hy het 3 frakture aan elke been, knie is vergruis.  Regter hak vergruis.  2 Kussinkies in die nek geskeur.  Hart is gekneus,sodanig dat dit beskou word soos wanneer iemand ‘n hartaanval kry.  Die longe se onderste lobbe is vol bloed,a.g.v. die impak van die slag van die botsing.  Ernstige kopbeserings – vermoed lae skedelfraktuur weens bloeding uit oor.  Verskeie diep snye in gesig en langs linkeroog.  Ook die regter oorskulp, wat omtrent afgeskeer is.  Johann se toestand is te swak om onmiddelik te opereer.  Ons moet eers wag.

Tuis vat die gemeenskap hande en onder leiding van Ria Nel, Johann se tannie, word ons boerdery behartig.  Mense wat in onmin gelewe het, praat dinge uit.  Verhoudings word herstel.  Almal help- is daar vir ons.

Die Here gebruik Johann se situasie om harte heel te maak en vrede te bring.

Johann word Woensdag geopereer.  Dr. Birkholtz meen 3 operasies sal nodig wees, om die skade aan die bene te herstel.  Die narkotiseer, dr. Karshagen, verloor Johann byna tydens die operasie.   Deur God’s genade loop die operasie, na 3 ure in die teater, goed af.  Eksterne fiksator, plate en baie skroewe, beenoorplanting in die knieë, doen die ding.  Johann lyk vreeslik!

Donderdag moet ek huistoe- lone moet gedoen word vir Vrydag – betaal naweek vir werkers.  Vrydag gaan ek en skoonsus,Doreen, eers na Johann toe.  Dit gaan uiters sleg.  Menslik gesproke kan ek nie vir die dag weggaan huis toe nie.  Ek bid vir Johann, die situasie en krag vir my.  Ek vertrou en kry gemoedsrus.  Doreen en my dogter wil nie dat el alleen huis toe ry nie.  Hulle vat my.  Oppad bel Past. Dawie.  Hy wil Johann besoek, as hy die oggend verby kom.  Ek beduie hom waar Johann is en sê dat dit glad nie goed gaan nie.

In die loop van die oggend besoek Past. Dawie vir Johann, bid vir hom- neem sy toestand waar. Johann is bewus van die besoek. Vertel later dat hy op daardie tydstip, bewus was dat hy besig was om dood te gaan.  Nadat Past. Dawie vir hom gebid het, het Johann se toestand onmiddelik verbeter.  Sodanig so, dat toe dr. Welcovics hom net voor middagete besoek, hy  die personeel opdrag gee om vir “die man ‘n  bord kos” te bring.  Hy kon nie glo wat hy sien nie.  Fenominaal! ONS GOD IS GROOT!!  Die skeptiese negatiewe trauma spesialis kon dit ook aanskou.  BY GOD IS ALLE DINGE MOONTLIK!

Ons word telefonies van die beterskap ingelig.  Ons juig en dank die Vader.  Die lone kan ek alles uit geld, deur kontant baalverkope gein, verhaal.  Weereens het die Here voorsien.

Met ons terugkoms by die hospitaal die aand, het Johann ons herken toe ons sommer nog sy bed nader.  Swelsel aan  sy bene het mooi gesak.  Die ventilator is nie meer nodig nie.  Selfs die outopeed beskou sy vordering as ‘n wonderwerk.   Op hierdie staduim is hy al van mening dat verdere operasies aan die bene nie meer nodig blyk te wees nie.

Die volgende oggend word Johann uitgeskuif na die hoë sorg eenheid – na net 3 dae in die intensiewe eenheid.  PRYS DIE HERE!

Sondagmiddag voor besoektyd(een en ‘n halwe dag in hoësorg) word Johann uitgeskuif na ‘n gewone saal.  Dit word so bestem dat die  pasiënt langs Johann ‘n afgetrede pastoor is.  Die se pastoor kom bedien hom en Johann, sowat 3 ure later met nagmaal.  ‘n Groot verseëling van die genade vir Johann. Hy is so dankbaar!!

Toe die fisioterapeut hom wil mobiliseer,  gee die nekbesering erge probleme.   Die MR – skandering toon aan, dat 2 kussinkies geskeur is – ‘n soort besering wat chirurgies herstel moet word.

Oral in die land, Namibië en selfs Mosambiek tree mense, baie onbekend, vir Johann in.  Ons weet, beleef en voel aan dat mense ons almal in hul gebede dra.  Ons weet dat God gebede verhoor en beleef dit.  God se genade is groot!!   Ons is dankbaar!

Om kostes te bespaar word Johann ontslaan.  Ek reël ‘n ambulans om hom te vervoer – onmoontlikheid met ‘n motor.  Doreen en my sussie reël vir ‘n hospitaalbed.  Weer word daar voorsien.  Die vorige jaar(2007) het die huur van ‘n hospitaalbed, vir een maand lank R5000-00 gekos.

Die verhuringsplek vra my R400-00 en ek word die deposit kwytgeskeld.

Ek is so dankbaar!

Vir 3 maande bly ons by ons dogter in Pretoria.  Johann vorder elke dag en so gaan ons net ‘n week voor Kersfees huis toe.  Na die rystoel vorg die loopraam en daarna krukke.  Johann se vordering is bo die normale.  Ons weet dis onverdiende guns alleen.  Verdere operasie vir die nek en hak is nie meer nodig nie – ons God doen  nie halwe werk nie!

Na 7 maande word die eksterne fiksator, plate en skroewe verwyder.  Die beengroei is sodanig dat die skroewe en penne uitgeboor moet word –ongekend vir ‘n man van oor die sestig jaar.  Johann begin loop met een kruk en doen al sy dagtake. Ons is in hierdie tyd so bewus van God se nabyheid, Sy voorsiening en Sy genade.  Ons dien ‘n Almagtige God en Vader!!

Die getal 3 het ‘n prominente getal geword dwarsdeur hierdie periode vir ons lewens.  Vir my dui dit op die volheidsgetal – op die totale Almag van God – Vader, Seun en Heilige Gees.

Gedurende die herstelmaande het ons geweldige aanslae van die vyand beleef.  Tog het die Here ons deur als gedra.  Nooit het ons verlore en moedeloos gevoel nie. Ons  Vader het wonderlike mense op ons pad gestuur om ons by te staan.  Soms het ons net by Sy voete gesit.  Deur  alles het ons geweldige  geestelike groei beleef.

ONS DANK ONS VADER VIR SY GROOT GENADE

JOHANN EN JUDY VERMEULEN